By Ashton Pre-Primêr word die goeie opvoedingstaak wat u tuis begin het, voortgesit en leer ons kleuters al spelende. Naas die uitbreiding van u kleuter se ervaringsveld en sy/haar algemene emosionele en sosiale vorming, word die doel ook nagestreef om hom/haar positief in te stel ten opsigte van hul formele skoolloopbaan. Hier behandel ons `n tema per week. Die meeste aktiwiteite word dan rondom dié tema aangebied.
Die breë beginsels waarop die Graad R&RR-program berus, is as volg:
- Om elke kind te lei tot maksimale ontwikkeling.
- Die program hou rekening met die fisiese en psigiese ontwikkelingstadiums van die kleuter.
- Die religieuse en etiese vorming van die kleuter geniet aandag.
- Geen formele onderwys word gevolg nie. Ons sê: “Al spelende leer ons, al lerende speel ons.”
- Gewoontevormende aktiwiteite soos hande was, toiletroetine, opruim van apparaat en toerusting nadat aktiwiteite afgehandel is, sowel as versorging van eie besittings, is roetine wat deel van die daaglikse dag vorm.
- Sosiale ontwikkeling en bevordering van gesonde verhoudings met maats en volwassenes.
- Stimulering en verryking van taalontwikkeling deur suiwer taalgebruik en duidelike uitspraak.
- Aktiwiteite in die vorm van spel om die intellektuele vermoë te ontwikkel.
- Die opbou van `n positiewe selfbeeld.
- Estetiese ervaring van musiek en skeppende aktiwiteite wat gestalte gee aan sy kreatiwiteit.
- Ontwikkeling van groot- en kleinspierkoördinasie deur middel van bewegingspel, musiekkringe asook vryspel binne en buite.
- Dat die kleuter gelukkig en tevrede by ons sal wees.