By ons begin die groot avontuur van kinders se formele skoolloopbaan. Hierdie is vir seker `n baie opwindende en by tye uitdagende tydperk in u kind se lewe.

 

By Laerskool Ashton poog ons om hierdie tyd meer opwindend as uitdagend vir u en u kind/ers te maak. Ons streef daarna dat elke leerder gelukkig is en geborge sal voel asook om kwaliteitonderrig te bied. Elke kind is `n wenner by ons!

LSA_extra_2

LEERAREAS

In die Grondslagfase word daar hoofsaaklik 4 leerareas aangebied, naamlik:

  • Wiskunde
  • Afrikaans (Huistaal)
  • Engels (Eerste Addisionele Taal)
  • Lewensvaardighede

Gedurende 2019 is ons Grondslagfase-onderwysers ook opgelei om isiXhosa aan te bied.

Ons Grondslagfase-leerders word nou ook toegerus met die basiese isiXhosa-woordeskat!

 

RAPPORTERING EN SLAAGVEREISTES

Rapportering  is  ‘n  proses  waarvolgens  leerderprestasie  aan  leerders,  ouers,  skole  en  ander  rolspelers gekommunikeer word. Daar kan op verskeie maniere oor leerderprestasie verslag gelewer word. Dit sluit in rapporte, ouervergaderings,  skoolbesoekdae,  intervensiegesprekke, telefoonoproepe,  briewe, klas- of skoolnuusbriewe, ensovoorts. Onderwysers in alle grade lewer in kodes verslag oor die vak. Sewe bevoegdheidsvlakke vir elke vak in Graad 1-3 word gebruik. Die verskillende vlakke met die ooreenstemmende kodes word in onderstaande tabel aangedui.

Kodes en persentasies vir optekening en rapportering:

Prestasies Beskrywing van vaardigheid Persentasie
7 Uitmuntende prestasie 80 – 100
6 Verdienstelike prestasie 70 – 79
5 Beduidende prestasie 60 – 69
4 Voldoende prestasie 50 – 59
3 Matige prestasie 40 – 49
2 Basiese prestasie 30 – 39
1 Ontoereikende prestasie 0 – 29

ALGEMEEN

Huiswerk:

Huiswerk vorm `n baie belangrike deel van vaslegging en is daarom baie belangrik dat dit daagliks voltooi word. Dit vorm `n integrale deel van die kind se kennis en ontwikkeling.

 

Belangrikheid van u as ouer:

U as ouer is in `n vennootskap met ons as opvoeders om u kind tot sy/haar volle potensiaal te ontwikkel. Dit is noodsaaklik dat u altyd positief oor u kind, die skool en die personeel sal wees. U moet altyd die vrymoedigheid hê om enige aangeleentheid met ons te bespreek.

 

Intervensie en kommunikasie:

Intervensie vind deurlopend plaas.

Ouers word aan die einde van elke kwartaal ingelig indien intervensie by betrokke leerder nodig is. Agterstande word deurlopend aangespreek en die nodige opvolgwerk word gedoen om leerders te help waar nodig. Goeie kommunikasie tussen leerder, onderwyser en ouer is noodsaaklik sodat ons elke kind se vordering kan monitor. Indien nodig, word kundige hulp ook ingespan.

 

Graad 1- en 2-leerders kry weekliks ekstra hulp by die skool in Huistaal.

 

Arbeidsterapie:

Mev Annaleen Cilliers (Arbeidsterapeut) is vanaf 2019 werksaam by Laerskool Ashton.

  • Sy besoek die skool vir terapie asook om individuele leerders te evalueer. Die koste hieraan verbonde word privaat deur die ouers betaal.

  • Sy bied weekliks sessies in klein groepies aan vir Graad R-leerders wat nog inoefening met fyn motoriese vaardighede benodig.

Mev Cilliers is van baie groot waarde vir ons intervensieproses by die skool. Sy bedien ook die personeel met baie goeie raad en bystand en voeg beslis waarde toe tot die opvoedingsproses!

 

Inligtingsaangeleenthede:

Kwartaal 1

Aan die begin van die jaar vind `n algemene oueraand vir alle ouers van die skool plaas. Elke opvoeder kry ook geleentheid om in die betrokke klasse met die ouers te praat en hul in te lig oor die jaar wat voorlê.

 

Aan die einde van die kwartaal word `n inligtingsaand vir die komende jaar se Gr. RR-, Gr. R- en Graad 1-ouers gehou.

 

Kwartaal 3

Bemagtigingsaand vir ouers.

 

Kwartaal 4

Daar word `n inligtingsaand gehou vir die komende jaar se Graad 1-leerders.

Die Bekendstellingsdag vind hierdie jaar op 30 Oktober 2019 plaas.

 

Nasorg:

`n Puik nasorgprogram word deur Me Maruschka Rheeder by Ashton Nasorg Tuiswerksentrum aangebied.

Kontak 063 605  4011 of e-pos (ashton_nasorg@yahoo.com) vir verdere inligting.

 

Rekenaargeletterdheid:

Daar is weekliks ‘n rekenaarperiode vir Graad 1- tot 7-leerders geallokeer waarin die leerders basiese rekenaarvaardighede aangeleer word.