Laerskool Ashton, die klein skool met die groot hart. Dit is ongetwyfeld waar. Daar is heelwat voordele verbonde aan hierdie klein skool met die groot hart. Ons is klein genoeg vir persoonlike aandag, maar met die groot hart is ons sterk genoeg om ‘n krag te wees.

Ons leerders presteer akademies uitstekend en ons is elke jaar onder dié top presteerders in die Wes-Kaap tydens die Graad 3- en Graad 6-sistemiese toetse. Die afgelope jare ontvang ons ook verskeie toekennings in hierdie verband. Die kleiner klasse as die nasionale en provinsiale gemiddelde help met individuele aandag vir elke leerder.

Op sportgebied is ons as klein skool baie kompeterend teen groter skole. Ons beskik oor afrigters wat in verskeie sporte self provinsiaal gespeel en ook provinsiaal afgerig het. Ons het jaarliks verskeie provinsiale deelnemers in ‘n groot aantal sportsoorte en selfs leerders wat internasionaal meeding en presteer. Ook kry leerders hier baie geleenthede omdat ons klein is en elkeen nodig het.

Op kultuurgebied staan ons nie terug nie en neem deel met ‘n groot hart. Ons is baie trots op ons skoolkoor wat jaarliks uitstekend presteer. Ons neem jaarliks deel aan verskeie Eisteddfods en Kunstefeeste en is die klein skool met die groot hart se prestasies buitengewoon.

Ons leerders word maklik uitgeken aan hulle goeie maniere en hart van omgee vir ander. Dit vind plaas omdat ons ‘n waardegedrewe skool is waar liefde, omgee, aanvaarding, respek, betroubaarheid en eerlikheid sommige van die waardes is wat ons uitleef.

Laerskool Ashton se personeel het ‘n omgeehart vir kinders. Hulle beoefen ‘n professie en verrig nie bloot net ‘n werk nie. Die personeel is ‘n goeie mengsel van jeug en ervaring. Ek is vas oortuig dit is die rede waarom Laerskool Ashton ‘n krag is om mee rekening te hou.

Almal is dit eens, dit is ‘n fees om in Laerskool Ashton te wees.

Mnr Jakkie Burger (Skoolhoof).